What is it with people to scratch these wounds everytime, close to a Christian day???
There are 365 and a third days in a year to scratch, why should Christians have to validate their religion on these days.
Here's a story i read not to long ago, it is in afrikaans ,wich i believe almost everyone understands and if you dont, i am pretty sure it can be found somewhere on the net.
All i can say is, long after you stopped looking for God, He will find you' .
QUOTE
God Het My Gekry!
Markus 11:27-33
Die kerkmanne kom en bevraagteken Jesus se gesag. Eintlik wil hulle Hom net
probeer vastrek sodat hulle Hom kan veroordeel, maar met 'n baie slim
antwoord gooi Jesus die vraag reguit terug na hulle toe. Die afgelope drie
jaar het hulle alles gesien wat Jesus gedoen het, maar steeds bly hulle
verhard teenoor Hom. Hoe lank moet dit aanhou voordat hulle die ware Jesus
kon sien?
John Powell, Professor aan die Loyola Universiteit in Chicago , het die
volgende insident vertel oor 'n student wat ook vir Jesus bevraagteken het.
Hy skryf:
"Sowat twaalf jaar gelede het ek gestaan en kyk hoe my studente die klas
instap vir hulle eerste lesing van Die Teologie Van Geloof. Daar het ek vir
die eerste keer vir Tommy gesien. Ek het my oë geknip om seker te maak ek
sien reg: hy was besig om sy lang hare te kam - hare wat tot ses duim
onderkant sy skouers gehang het. Dit was die eerste keer dat ek 'n seun
gesien het met sulke lang hare - daardie mode het seker maar so pas die
wêreld getref. Ek het natuurlik besef dat dit nie dít op jou kop is wat tel
nie, maar wat binne is, maar ek was totaal onvoorbereid vir hierdie gesig.
In my gedagtes het ek vir Tommy geliasseer onder "V" vir Vreemd - baie
Vreemd.
Dit het so uitgedraai dat Tommy die "plaaslike ateïs" van my Teologie klas
was. Hy het tot vervelens toe gekerm, smalende aanmerkings gemaak, en enige
moontlikheid van 'n onvoorwaardelike, liefdevolle Vader/God in twyfel
getrek. Ons het mekaar in relatiewe vrede verdra vir die eerste semester,
maar ek moet byvoeg dat hy dikwels maar vir my 'n ernstige pyn in die
agterbanke was.
Na die eindeksamen stap hy na my toe en vra smalend: "Prof, dink jy ek sal
ooit vir God vind?"
Ek besluit om 'n bietjie skokterapie toe te pas: "Nee!", sê ek kortaf.
"O," reageer hy verbaas, "Ek het gedink u sal die produk wou verkoop."
Ek het hom kans gegee om so vyf treë uit die klas te loop voordat ek hom
agterna geroep het: "Tommy, ek dink nie jy sal ooit vir God kry nie, maar
ek is beslis seker dat Hy vir jou sal kry!"
Hy het vir 'n oomblik gehuiwer, en toe verdwyn hy uit my klas en uit my
lewe. Ek was teleurgesteld dat hy nie my slim antwoord: "Hy sal jou kry!"
gesnap het nie. Ek het ten minste gedínk dat dit 'n baie slim lyn was......
Ek het later verneem dat Tommy graad gevang het, en ek was dankbaar. Maar
toe kom die droewige nuus: Tommy het terminale kanker. Voordat ek hom kon
opsoek het hy eendag na my toe gekom. Ek het geskrik toe hy in my kantoor
instap - sy liggaam was uitgeteer, en die pragtige lang hare het uitgeval
van die chemoterapie, maar sy oë het geblink en sy stemtoon was vir die
eerste keer selfversekerd.
"Tommy, ek het so baie aan jou gedink. Ek hoor jy is siek", stamel ek dit
uit.
O ja, ek is baie siek. Ek het kanker in albei longe. Ek het nog net 'n
paar weke oor."
" Kan jy daaroor praat, Tommy?" wou ek weet.
"Seker, wat wil jy weet?" antwoord hy.
"Hoe voel dit om maar net vier en twintig te wees, en sterwend te wees?"
"Aag, dit kon baie erger gewees het."
"Hoe so?"
"Wel, ek kon vyftig gewees het sonder enige lewenswaardes of ideale;
vyftig, en al wat tel is drank, om vrouens te verlei, en om geld te maak;
dat dit die enigste groot dinge in die lewe is."
Ek het deur my liasseringstelsel begin soek onder die letter "V", daar waar
ek vir Tommy onder "Vreemd" geliasseer het. Dit lyk vir my dat almal wat ek
probeer van ontslae raak in my klassifikasie - vir hulle stuur God weer
terug in my lewe in om my te kom opvoed.
"Waaroor ek u eintlik kom sien het", sê Tommy, "is oor iets wat u gesê het
op die laaste dag wat ek in u klas was." (Hy het sowaar onthou!)
Ek het u gevra of ek ooit vir God sou vind, en u het 'Nee!' gesê - iets wat
my werklik verbaas het. Maar toe sê u 'Maar Hy sal JOU vind.' Ek het baie
hieroor nagedink, alhoewel my soeke na God nie juis baie ernstig was nie.
(My slim antwoord! Hy het sowaar daaroor nagedink!)
"Maar toe kom die slegte nuus, toe die dokters 'n knop uit my lies moes
verwyder, en hulle my moes meedeel dat dit kwaadaardig was. Dit is tóé wat
ek eers werklik vir God begin soek het. Die kanker het deur my hele liggaam
versprei, en ek het my vuiste rou geslaan teen die hemel se poorte ...
maar God het nie te voorskyn gekom nie. Om die waarheid te sê, het absoluut
niks gebeur nie! Professor, het u al ooit vir 'n lang tyd baie hard probeer
om iets reg te kry sonder sukses? Sielkundig takel dit jou totaal af. Jy
raak moedeloos, en uiteindelik gee jy moed op.
Wel, een oggend het ek wakker geword, en in plaas daarvan dat ek weer 'n
paar bakstene oor daardie hoë muur van die hemel probeer gooi het om God,
wat dalk nie eers daar is nie, wakker te maak, het ek net opgehou probeer.
Ek het besluit dat ek rêrag nie meer omgee oor God of Sy ewige lewe of
enigiets nie. Ek het besluit dat ek die tydjie wat ek oor het, baie beter
kon gebruik deur iets werklik lonend te doen. Ek het baie gedink aan die
dinge wat u in die klas vir ons gesê het, en een van die dinge wat ek kon
onthou was dat u gesê het: 'Dit is tragies om deur die lewe te gaan sonder
liefde. Maar dit is net so tragies om hierdie wêreld te verlaat sonder dat
jy vir diegene wat jy liefhet vertel het dat jy hulle liefhet.'
En so begin ek toe met die moeilikste een - my pa. Hy het gesit en koerant
lees toe ek by hom kom.
"Pa...."
"Ja, wat?" Hy het my geantwoord sonder om eers die koerant te laat sak.
"Ek wil graag met Pa praat."
"Nou toe, praat maar."
"Pa, dis baie belangrik."
Die koerant sak so effens. "Wat is dit?"
"Pa, ek is lief vir Pa. Ek wou maar net hê dat Pa dit moet weet."
(Tommy het breed geglimlag, en ek kon duidelik sien dat 'n warm gloed van
vreugde uit hom straal.)
"Die koerant het uit my pa se hande geval. En toe doen hy twee dinge wat hy
nog nooit voorheen gedoen het nie: hy het gehuil en hy het my styf omhels.
Ons het die hele nag deur gesels. Dit was 'n wonderlike gevoel om so naby
aan my pa te wees, om sy trane te sien en sy omhelsing te voel, en om hom
net te kon hoor sê dat hy my liefhet.
Met my ma en my kleinboet was dit makliker. Hulle het ook saam met my
gehuil en my omhels, en ons het mooi dinge vir mekaar gesê. Ons het die
dinge met mekaar gedeel wat ons al die jare vir mekaar geheim gehou het.
Daar was net een ding waaroor ek so bitter jammer was - dat dit so lank
moes vat voordat ons hierdie dinge kon doen. En hier was ek nou, besig om
oop te maak teenoor almal wat al die jare baie naby aan my was.
En eendag, toe ek weer sien, toe was God daar! Hy het nie na my toe gekom
toe ek Hom gesmeek het nie. Ek dink ek was dalk soos 'n leeutemmer wat met
my hoepel gestaan het en vir God probeer sê het: 'Spring! Spring! Ek gee U
drie dae - drie weke......' Dit lyk my God doen dinge op Sy eie manier, en
op Sy eie tyd. Maar die belangrike ding was dat God daar was! Hy het my
gevind. Ja, u was reg Prof., Hy het my gekry, selfs nadat ek opgehou het om
vir Hom te soek."
My mond het oopgehang: "Tommy, jy het iets baie belangrik vir my vertel -
iets wat baie, baie groter is as wat jy dalk sou besef. Wat jy eintlik sê,
is dat die maklikste manier om God NIE te vind nie, is om Hom jou
persoonlike besitting te probeer maak - 'n soort-van probleemoplosser of 'n
kits-troos wanneer jy in die nood is. Dit is beter om eerder net jou hart
oop te maak vir liefde. Jy weet, Paulus het gesê dat God liefde is, en dat
as jy in liefde leef, dan leef jy met God, en God in jou.
Tom, kan ek jou 'n groot guns vra? Jy weet, die tyd toe jy in my klas was,
was jy vir my 'n groot pyn. Maar nou kan jy opmaak vir alles, as jy sou
instem om na my Teologie-klas toe te kom en vir my studente te kom vertel
wat jy vanoggend vir my vertel het. Hoe lyk dit? Jy weet, as ek dit vir
hulle moet vertel sou dit nie naasteby dieselfde effek hê nie."
"Ooooo .... ek weet nie so mooi nie - ek was gereed om vanoggend met u te
kom praat ..... maar vir die klas - daarvoor sien ek nie so mooi kans nie."
"Gaan dink maar daaroor, en as jy gereed is laat jy my weet."
'n Paar dae later skakel Tommy my: hy was gereed om sy verhaal met die klas
te kom deel, en hy wou dit doen vir God en vir my. Ek het 'n afspraak met
hom gemaak, maar hy kon daardie afspraak nooit nakom nie, want daar was 'n
ander, baie belangriker afspraak wat hy moes nakom - baie belangriker as ek
of die klas.
In der waarheid was sy lewe nie be-eindig deur sy dood nie - dit het net
verander. Hy het die reuse stap geneem van geloof na werklikheid. Hy het 'n
nuwe lewe gekry, baie mooier as wat ek en jy ooit van kan droom - baie
heerliker as wat enigeen ooit gesien of ondervind het.
Voordat Tommy dood is het hy nog een laaste maal met my gepraat:
"Ek sal dit nie kan maak na die klas toe nie."
"Ek weet Tommy."
"Sal u asseblief vir hulle vertel? Sal u .... vertel my verhaal aan die
hele wêreld .... asseblief?"
"Ek sal, Tommy, ek sal my bes probeer."
Dus wil ek vanoggend vir jou, liewe leser, baie dankie sê dat jy die tyd
afgestaan het om hierdie eenvoudige verhaaltjie van liefde te lees. En vir
jou, Tommy, daar waar jy êrens in die hemel is - ek het vir hulle vertel,
Tommy, so goed as wat ek maar kon.
Hierdie is 'n ware verhaal - vertel dit gerus maar oor vir 'n vriend of
twee.
Met groot dank.
John Powell, Professor Loyola Universiteit, Chicago